
Die uitdaging van verandering
Studie #14
Ons leef in ‘n wȇreld van konstante verandering. Die geografiese wȇreld verander, die ekonomie verander, die politiek verander, ons werksomstandighede mag verander en selfs ons persoonlike lewens en verhoudings is onderworpe aan verandering.
Die mate waarin ons sukses beleef tydens verandering, hang ten nouste saam met ons ingesteldheid teenoor verandering: is ek oop daarvoor, of verval ek in angs?
“37En niemand gooi nuwe wyn in ou wynsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die wynsakke laat oopbars, dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen. 38Nee, nuwe wyn moet in nuwe wynsakke gegooi word.
Lukas 5:37-38
Hierdie skrifgedeelte moedig ons aan om ‘n nuwe, vars ingesteldheid teenoor verandering te hȇ. As ons verandering verwelkom, stel dit ons in staat om die nuwe pad waarop God ons wil neem, entoesiasties te betree.
”Niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hȇ nie, want hy sȇ: Die oue is goed.”
Lukas 5:39
‘n Mens klou aan ‘n gemaksone vas, eerder as om verandering heelhartig te aanvaar. Die Israeliete wou telkemale terugkeer na Egipte, toe hulle struikelblokke op hulle pad na die Beloofde Land teëgekom het; na die goeie wat God hulle beloof het. Aanvaar en verwelkom die veranderinge wat jou pad langs kom, want jou Herder loop jou vooruit!
Jy kan nie nuwe hoogtes bereik as jou hart nie bereid is om die ou dinge agter te laat en die nuwes tegemoet te stap nie.
”13…Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”
Filippense 3:13-14
Slotsom
”Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hȇ. En as julle in enige opsig anders daaroor dink, sal God ook hierin aan julle die regte insig gee.”
Filippense 3:15
Verandering en vernuwing is deel van God se plan vir ons lewens. Dank Hom daarvoor!
Alle Skrifgedeeltes is uit die 1983 vertaling aangehaal.