Gedagtes

Studie #7

Ons lewens word grootliks bepaal deur dit wat ons dink – hoe ons oor dinge dink en waaraan ons dink. Ons kan dus sȇ: “Ons is wat ons dink.” Hierdie stelling word in die Bybel onderskryf:

“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”

Spreuke 4:23

Ons word deur hierdie Skrif direk gekonfronteer om ons gedagtewȇreld onder ‘n vergrootglas te plaas. Die Bybel moedig ons aan om ons gedagtes voortdurend te vernuwe en daarmee saam word ons geleer hoe om dit prakties toe te pas.

Hoe vernuwe ek my gedagtes?

Die volgende drie verse bevat praktiese stappe om ons gedagtes te help vernuwe:

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Romeine 12:2

Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie…”

Kolossense 3:2

Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskryf staan, want dan sal jou weȅ voorspoedig wees en jy sal met goeie gevolg handel.” 

Joshua 1:8 (1953 vertaling)

Wat beteken dit om te peins of te mediteer?

Om oor en oor aan iets te dink, daaroor te bid, dit jou eie te maak en dit dan uit te spreek. So sal die inhoud van jou denke begin vernuwe en sal dit die rigting van jou lewe begin verander.

Wat doen ek met negatiewe of ongelowige gedagtes?

“Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”

2 Korintiȅrs 10:5

Hierdie skrif moedig ons aan om ons gedagtes gevange te neem en hulle in gehoorsaamheid aan God te onderwerp. Hier word ‘n baie sterk prentjie geskilder – een van geen verdraagsaamheid teenoor verkeerde en negatiewe gedagtes nie.

Stappe om my gedagtes te vernuwe:

  • Besef en erken dat daar ‘n beter manier is om te dink.
  • Besluit om dit toe te pas.
  • Vul my denke met die waarhede in die Woord.
  • Vasstaan daarby om geen ongelowige of negatiewe gedagtes toe te laat nie, maar om hulle gevange te neem en in gehoorsaamheid te onderwerp aan God.
  • Leef in die verwagting van die vrug en seȅn van Woordvervulde gedagtes: sukses, vrede, oorwinning, ens.

Slotsom

20My seun, hoor wat ek vir jou sȇ: luister goed na my woorde! 21Moet dit nie vergeet nie, hou dit altyd in gedagte, 22want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister, ‘n volle lewe vir hom wat dit besit.”

Spreuke 4:20-22

Alle Skrifverwysings is aangehaal uit die 1983 vertaling, tensy anders vermeld.