Geloofsekerheid, ja of nee?

Studie #1

Vraag

Kan ek nou reeds weet, sonder twyfel, dat ek gered is en gereed is om die ewigheid in te gaan? Dus: dat ek op pad is hemel toe om vir ewig en altyd by Hom in te woon?

Antwoord

Ja, jy kan en behooort te weet, want nou, terwyl jy op aarde is, is dit jou enigste geleentheid om iets aan die saak te doen.

“Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.” 

1 Johannes 1:4

In 1 Johannes 5:10-13 vertel Johannes vir ons van hierdie versekering wat ons het. Vers 13 sê: 

“Hierdie brief skrywe ek vir julle sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” 

1 Johannes 5:13

Hierdie skrifte verwys na die feit dat ons kan weet dat ons gered is!! Om nie geloofsekerheid te hȇ nie, beteken ‘n lewe van onsekerheid en angstigheid, wat lynreg in teenstelling is met die vrede en blydskap wat die Here aan Sy volgelinge beloof.

Reeds in die Ou Testament word hierdie volkome redding geprofeteer, en genoem asof dit ‘n afgehandelde saak was. Jy kan meer hieroor lees in Jesaja 53:1-12, maar lig graag die volgende verse uit: 

4Tog het hy ons lyding op hom geneem… 5Oor ons oortredings is hy deurboor, oor ons sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” 

Jesaja 53:4-5

Die Hebreërskrywer verwys ook na redding as ‘n afgehandelde, volkome werk van redding. Ek lig dele uit van verse 3 en 4 en ook verskeie ander verse wat ons versekering bevestig: 

2Ons het die blye boodskap ontvang…. 3Ons wat glo, gaan wel die rus in”.

Hebreërs 4:2-3

“Daarom kan Hy ook die wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos. Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” 

Hebreërs 7:25

“Met Sy eie bloed… het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring.”  

Hebreërs 9:12

12Maar Jesus Christus het een offer vir die sondes gebring…14Deur die een offer het Hy die wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” 

Hebreërs 10:12,14

Romeine 8:15-17 en 1 Korintiërs 2:12-16 verwys ook na ons volkome versekering van redding, maar ek beklemtoon die volgende twee verse:

“Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

Romeine 8:16

“Maar ons, ons het die Gees van Christus.”

1 Korintiërs 2:16

Lees gerus ook Galasiërs 3:7-9 en 11, Romeine hoofstuk 1 tot hoofstuk 4 en Numeri 14. Al bogenoemde waarhede moet in geloof aanvaar word.

Slotsom

Ons kan geloofsekerheid hȇ en so ons redding vier met die vaste wete dat ons op pad is hemel toe! Hierdie vaste wete bring ‘n nuwe perspektief in die gelowige se lewe: goeie werke bring nie redding nie! Net die kosbare bloed van Jesus kan redding “koop.” Hy het reeds die prys betaal. Nou leef ons uit dankbaarheid en liefde vir Jesus, ooreenkomstig Sy Woord, ‘n heilige en welgevallige lewe tot Sy eer.

Alle Skrifgedeeltes is uit die 1983 vertaling aangehaal