
Hoe wag ‘n mens vir ‘n antwoord op gebed?
Studie #4
Die Bybel leer ons om ons versoeke in gebed na die Here te neem. Ons doen dit in die geloof dat ons volgens sy wil bid, vir byvoorbeeld genesing.
“En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets so vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.”
1 Johannes 5:14-15.
Ons vestig ons geloof in Hom en in die waarheid van sy Woord:
“’n Mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.”
Jakobus 1:7-8
“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
Hebreȅrs 11:1
Wat behoort ons houding te wees terwyl ons wag vir die manifestasie van die antwoord op ons gebed?
“Al was hy sowat honderd jaar en al het hy goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hȇ, het sy geloof nie verswak nie. Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.”
Romeine 4:19-21
Hier stel Abraham vir ons die voorbeeld:
- Hy laat nie toe dat twyfel / ongeloof die oorhand kry nie.
- Hy versterk homself, deur in geloof die Here te loof en te prys.
- Hy was oortuig daarvan dat God instaat was om te doen wat Hy beloof het. Hy het God ten volle vertrou.
Hierdie vasbyt-geloof het vir Abraham guns by God verseker.
Slotsom
Moenie passief wag op die waar-word van God se beloftes vir jou nie, maar versterk jou geloof deurlopend volgens Abraham se voorbeeld.
Al die Skrifverwysings is uit die 1983 vertaling aangehaal.