integriteit

Studie #12

Wat is integriteit?

Integriteit word beskryf as die handhawing van ‘n onkreukbare staat van moraliteit, eerlikheid, opregtheid, betroubaarheid en deugsaamheid. Dit is ‘n kwaliteit van menswees wat jou in staat stel om goeie besluite te neem en in alle omstandighede met wysheid en standvastigheid op te tree.

Integriteit is ook vir God baie belangrik. Die Bybel praat deurgaans van hoe belangrik hierdie kwaliteit vir God is. 

“Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sȇ Hy van hom: “Hier is ‘n Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie.” (“Bedrog” kan ook as “valsheid” vertaal word.)

Johannes 1:47

Dit is interessant dat Jesus hierdie kwaliteit in Natanael raakgesien het terwyl hy nog op pad was om Hom te ontmoet.

Ons lees in Genesis 20 van die voorval tussen Abraham en koning Abimelek, toe Abraham gesê het dat Sara sy suster is en die koning haar as vrou wou neem. Ek haal ‘n paar tekste uit die hoofstuk aan:

2Hy het voorgegee sy vrou Sara is sy suster. Koning Abimelek van Gerar het haar toe laat haal om met haar te trou. 3Een nag het God in ‘n droom aan Abimelek verskyn en vir hom gesȇ: ”Jy gaan sterf omdat jy met hierdie vrou wil trou. Sy is al getroud…. 5Abraham het dan self vir my gesȇ: Sy is my suster. En sy het self gesȇ: Hy is my broer. Ek het dit onskuldig en sonder slegte bedoelings gedoen”.6Toe het God vir hom in ‘n droom gesȅ: “Ja, Ek weet dat jy dit in die integriteit van jou hart gedoen het. Daarom het Ek jou daarvan weerhou om teen My te sondig en het Ek jou nie toegelaat om aan haar te raak nie.”

Genesis 20:2-3;5-6

God het hierdie koning se integriteit geëer en hom in ‘n droom gewaarsku om nie teen Hom te sondig nie. Dit is hoe belangrik integriteit vir God is. Hy weerhou selfs ‘n koning wat Hom nie dien nie daarvan om teen Hom te sondig.

Slotsom

Indien ons integriteit te kort skiet, kan ons met groot vrymoedigheid na die troon van genade gaan om gehelp te word. Die Heilige Gees wil ons in so ‘n mate vernuwe dat ons harte nie na verkeerde dinge sal hunker nie. Hy het ons vrygemaak van die mag van sonde en hou getrou oor ons die wag.

8“Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe…. 12Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.”

Psalm 51:8,12. 

Alle Skrifgedeeltes is uit die 1983 vertaling aangehaal.