Is bekering en wedergeboorte genoeg, ja of nee?

Studie #3

Vraag

Is ek ten volle gered as ek tot bekering en wedergeboorte gekom het?

Antwoord

Nee, verseker nie. Johannes die Doper, Jesus, Petrus en Paulus verklaar dat die reddingsproses uit drie stappe betstaan:

  1. Bekering en wedergeboorte: ‘n doelbewuste besluit om weg te draai van sonde en vergifnis te ontvang.
  2. Doop van die gelowige: sterf aan my ou natuur deur die doop en staan op in ‘n nuwe lewe saam met Christus.
  3. Doop in die Heilige Gees: om die krag van die Heilige Gees te ontvang, sodat ek as ‘n oorwinnaar in alle omstandighede kan leef.

Toe die eerste bekeerlinge gevra het “Wat moet ons doen, broers?” het Petrus en die ander apostels hulle vraag met hierdie teks beantwoord: 

Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal julle die gawe van die Heilige Gees ontvang.”

Handelinge 2:38

Die volgende tekste dien as bevestiging: 

“Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo…”

Romeine 1:16.

“Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.”

1 Korintiërs 1:30

Dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.”

Romeine 8:30

Slotsom

Redding is ‘n voortdurende proses: ek moet daagliks aan my self sterf en gedurig met die Gees vervul word, sodat ek méér as ‘n oorwinnaar kan wees. Dit is n omvattende begrip wat praat van die mens se totale redding, vanaf ‘n verlorene sonder hoop, tot ‘n verloste mens wat suksesvol in die volmaakte wil van God leef. Hierdie reddingsproses bevat verskeie elemente wat elkeen noodsaaklik is om ons redding in stand te hou.

Die doel van die saligheidsplan is nie bloot om die mens van die ewige hel te red nie, maar om hom n nuwe skepsel met n nuwe hart te maak, wat in verhouding met Jesus leef, in totaliteit gered, na liggaam, siel en gees. 

Hierdie Evangelie bevat dus die boodskap van TOTALE redding.

Alle Skrifverwysings is uit die 1983 vertaling aangehaal.