
Leef van elke woord uit die mond van God
Studie #25
Hoe leef ‘n mens van elke woord uit die mond van God?
Daar is talle voorbeelde in die Bybel waar God op verskeie maniere met mense gepraat het. Dink aan Josef en Maria en die maagdelike geboorte van Jesus. Ook die keer toe Josef in ‘n droom gewaarsku is om na Egipte te vlug.
Ons lees dikwels in die Bybel van die Woord van die Here wat tot so en so gekom het. Net so kan die Heilige Gees sorg dat die Woord van die Here tot ons kom. Dit gebeur gewoonlik op een van die volgende maniere:
- deur ‘n skrif in die Bybel wat vir my uitstaan
- deur geesvervulde mense se inspraak in my lewe
- deur drome
- deur ‘n spontane gedagte wat by ‘n mens opkom, ens.
Niks en niemand – geen vyandige mag– kan suksesvol teen Sy Woord staan nie. Die Woord van God staan vas en sal nooit verander nie en is beskikbaar vir elkeen wat daarna soek. Hy is dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid.
Wat is my verantwoordelikheid?
Tom Ingles vertel van ‘n man aan wie God gesȇ het dat hy enige iets van Hom kon vra en dat hy dit sou kry. Die man het lank nagedink en geantwoord: “Ek wil elke belofte in die Woord van God hȇ.” God se reaksie: “As jy dit in die Woord kan kry, is dit joune.”
So plaas God die verantwoordelikheid op ons skouers!
- Lees die Woord.
- Glo die Woord.
- Tree op volgens die Woord.
- Bely, spreek en verklaar die Woord.
- Vra dat God deur sy Gees met jou sal praat.
- Stel jouself in op die Gees.
In 1 Konings 17 lees ons dat Elia ‘n droogte aangekondig het. Ons lees dat die Woord van die Here na hom toe gekom het en hom beveel het om na die spruit Krit te gaan, waar God hom sou versorg. Maar helaas! Die spruit het opgedroog. Die Woord van die Here het weer na hom gekom en die volgende opdrag gegee. Hy moes na Sarafat gaan waar ‘n weduwee hom sou versorg. So het God hom stap vir stap gelei om hom te versorg en om ander se lewens aan te raak. Wat ‘n opwindende lewe!
Slotsom
“…‘n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”
Mattheus 4:4
“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sȇ: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’.”
Jesaja 30:21
“…Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand….”
Hebreërs 1:3
“Die woord van God is lewend en kragtig….”
Hebreërs 4:12
“So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hȇ en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.”
Jesaja 55:11
Kom, leef van elke woord wat uit die mond van God kom! Elke dag is ‘n heerlike avontuur!
Al die Skrifte is uit die 1983 vertaling aangehaal.