
Meer vrugbaar in die Koninkryk
Studie #33
“22Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing….”
Galasiërs 5:22-23
Hoe kan ek meer vrugbaar wees in die Koninkryk van God?
“Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die Woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes. Soms honderdvoudig, soms sestigvoudig en soms dertigvoudig.”
Matteus 13:23
Lees gerus die hele “Gelykenis van die Saaier” in Matteus 13:18-23. Hiervolgens, is dit die mens wat die Woord hoor, dit aanvaar en toepas, wat vrug dra. Die saad is die Woord. Hoewel dit dieselfde saad is wat gesaai word, verskil die grootte van die oes van mens tot mens. Wat maak hierdie verskil? Die toestand van die grond!
Wat moet ek doen om die toestand van die grond van my hart te verbeter?
“As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.”
2 Timoteus 2:21
Alle stappe wat in gehoorsaamheid aan die Woord en die Heilige Gees geneem word, is stappe om die grond van jou hart meer vrugbaar te maak. Die water van die Woord was ons harte en reinig dit van alle ongeregtigheid, mits ons dit toelaat.
“Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het,”
Efesiërs 5:26
“2Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy af, maar elke elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesȇ het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle….”
Johannes 15:2-4
Hier word Jesus, die Ware Wingerdstok, met ‘n boer vergelyk, wat ons versigtig regsnoei om meer vrugbaar te wees.
Slotsom
Hierdie is net ‘n paar voorbeelde van hoe ons deur gehoorsaamheid aan die Woord kan meewerk om die kwaliteit van die grond van ons harte te verbeter, sodat ons meer vrug kan dra en daarom meer bruikbaar in die Koninkryk van God kan wees.
Laat dit ons gebed wees: “Here, verander my, vernuwe my, leer en lei my, om meer vrug te dra tot u eer alleen. Amen.”
Al die Skrifte is uit die 1983 vertaling aangehaal, behalwe waar anders vermeld.