
Moenie aanstoot neem nie
Studie #13
Wat beteken dit om aanstoot te neem?
Om aanstoot te neem beteken om ontevrede of seergemaak te voel as gevolg van kritiek, beledigings, misverstande, onvervulde verwagtings en struikelblokke wat ons op ons lewenspad teëkom.
Om aanstoot te neem en te gee, weerhou ons van seëninge wat God oor ons wil uitstort en kan ‘n aanduiding van geestelike onvolwassenheid wees.
“Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het (aanstoot geneem het) toe hulle hoor wat U gesȇ het?”
Mattheus 15:12
Die Fariseërs, skrifgeleerdes en Sadduseërs het Jesus se leringe sterk teëgestaan. Hy het vir hulle ‘n struikelblok geword, omdat hulle nie Sy boodskap van verlossing wou aanvaar nie. Hulle het met die bose magte saamgewerk om Hom te laat kruisig en sodoende het hulle hul eie verlossing en die seën van God oor hulle lewens, verwerp.
“…Hulle struikel omdat hulle nie aan die Woord gehoorsaam is nie….”
1 Petrus 2:8
Moenie toelaat dat die Woord van God vir jou ‘n struikelblok, ‘n steen des aanstoots, word nie. Laat Hom toe om jou lewe te rig, sodat jy in Sy seën kan leef.
Johannes die Doper het, terwyl hy in die tronk was, sy dissipels na Jesus gestuur met hierdie vraag:
“Is U die een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”
Mattheus 11:2
Ons sien dat selfs hý aanstoot teen Jesus geneem het weens onvervulde verwagtings. Net so kan ons as gelowiges ook aanstoot neem wanneer ons gebede nie beantwoord word volgens ons verwagtinge nie.
“[Die liefde] handel nie onwelvoeglik nie (gee nie aanstoot nie), soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie en hou nie boek van die kwaad nie.”
1 Korintiërs 13:5
‘n Gebrek aan liefde vind uiting in onwelvoeglike optrede (gee aanstoot), liggeraaktheid (neem aanstoot), selfsug en ‘n geneigdheid om boek te hou van dinge wat in die verlede lȇ.‘
“En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!”
1 Korintiërs 13:13
Slotsom
“16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.”
Efesiërs 3:16-17
(Alle Skrifverwysings is uit die 1983 vertaling aangehaal)