
Na Sy beeld en gelykenis – deel 2
Studie #39
Om te wees soos Hy is
- Hy is verhewe bo alle magte en kragte.
- Hy skep deur Sy woorde.
- Hy bring lewe waar Hy gaan.
- Hy dien met die hart van ‘n koning.
- Hy heers met die hart van ‘n dienskneg.
- Hy het ons onvoorwaardelik lief.
- Hy het empatie en simpatie.
- Hy is met Sy outoriteit beklee.
- Hy het Sy lewe vir ons neergelȇ.
- 10.Hy bring vir ons genesing, beskerming, voorsiening en herstel.
“3Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur die begeerlikheid in die wȇreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.”
2 Petrus 1:3-4
”5Juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug,7die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar, met liefde vir alle mense. 8As julle dit alles besit en dit neem toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 10Julle moet julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het….”
2 Petrus 1:5-8,10
Die woord deugsaamheid dui op ‘n lewenswyse waar ‘n mens gefokus is op ‘n doel – dat jy moedig en dapper in die geloof sal leef sodat jy ‘n verskil vir die Here sal maak in die wȇreld waarin jy woon. Deugde verwys na goeie dinge wat gedoen word, sodat die heerlikheid van die Here in ons weerspieël kan word.
Die vyand poog altyd om ons van sonde, onbeholpenheid, mislukking en hopeloosheid te oortuig. Hy wil hȇ dat ons met allerlei teleurstellings en swakhede moet identifiseer en hy poog om ons minderwaardig te maak en te laat voel. Dit is alles leuens!
Die waarheid is dat ons meer as oorwinnaars in Hom is, omdat Hy die sonde en dood oorwin het. Dit is wie ons in Christus is: magtige krygers in die koninkryk van God op aarde, toegerus met alles wat ons nodig het om meer as oorwinnaars te wees.
Hier is ‘n paar riglyne wat ons kan help om meer soos Jesus te wees:
- Let op waarop jy fokus.
As ons op negatiewe dinge fokus, versterk ons die negatiewe dinge in ons lewe.
“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – daarop moet julle julle gedagtes rig.”
Filippense 4:8
“Rig julle gedagtes op die dinge wat daar bo is…”
Kolossense 3:2
“Rig vir jou padwysers op, bring vir jou rigtingborde aan, hou jou oog op die grootpad, op die pad wat jy moet loop….”
Jeremia 31:21
- Dink soos ‘n oorwinnaar en nie soos ‘n slagoffer nie.
“Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë.”
1 Petrus 5:8
Uit hierdie teks blyk dit duidelik dat ons nie ‘n slagoffer van die vyand hoef te wees nie. In alle omstandighede kan ons meer as oorwinnaars wees as ons standvastig in die geloof staan en hom teëstaan.
- Neem jou voor om soos ‘n oorwinnaar te leef
“Daniel het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie…”
Daniël 1:8
Net so moet ons ook vooraf besluit dat ons nie slagoffers van omstandighede sal wees nie. Ons moet besluit om standvastig in die geloof te staan en onsself nie te verontreinig nie.
- Laat die Heilige Gees toe om jou gedagtes te vernuwe
“…Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslȇ….”
Jeremia 31:33
Die profeet Esegiël gaan ‘n stappie verder as hy sȇ:
“Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”
Esegiël 36:27
Met die uitstorting van die Heilige Gees het ons Sy krag in ons wat ons in staat stel om meer soos Hy te wees.
Slotsom
“Ek het aan jou bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?”
Miga 6:8 (2020 vertaling)
Alle skrifverwysings is uit die 1983 vertaling aangehaal, behalwe waar anders aangedui