Vergifnis

Studie #6

Wat is vergifnis?

Dit is om iemand vry te spreek van die leed of kwaad wat jy aangedoen is. Met ander woorde, om dit nie meer teen die persoon te hou nie.

Moet ons vergewe?

Ja, die opdrag is duidelik! Lees Mattheus 18: 21-35. Hierin lees ons ‘n gelykenis wat Jesus vertel het om hierdie vraag ten diepste te beantwoord. Ek haal vers 35 aan:

“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Mattheus 18:35

Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie.”

Mattheus 6:15

Is ons in staat om te kan vergewe?

Nee, nie uit ons eie nie. Dit is die Heilige Gees jou in staat stel om te kan vergewe, as jy dit begeer.

26Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”

Esegiël 36:26-27

“Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslȇ.”

Jeremia 31:33

Wat behels die proses van vergifnis?

  • Ek besef en erken dat ek onvergewensgesindheid in my ronddra.
  • Ek besef en erken dat ek moet vergewe.
  • Ek neem die besluit om dit te doen.
  • Ek neem dit na die Here in gebed en vra Hom om my in staat te stel om te kan vergewe.
  • Ek spreek die persoon vry wat my te na gekom het, en soms moet ek myself ook vryspreek en vergewe.
  • Ek oordink die gebeure nie meer nie.
  • “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”

Romeine 12:2

  • Ek laat geregtigheid oor aan die regverdige Regter.
  • “Moenie self wraak neem nie geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.”

Romeine 12:19

  • Ek vier my vrymaking met danksegging en lofprysing.
  • Ek volg hierdie proses oor en oor totdat ek vryheid bereik en dit ervaar, aangesien ek weet dat vergifnis nie altyd ‘n eenmalige gebeurtenis is nie.

Slotsom

Dit is ons Vader se wil dat ons in vryheid moet leef; vry van die bande van onvergewensgesindheid. Vergifnis maak my vry van bitterheid, woede, haat en alle ander negatiewe emosies. Hy wil hȇ dat ons in Sy rus en vrede moet leef.

Alle Skrifgedeeltes is uit die 1983 vertaling aangehaal