
Volhard
Studie #19
Hoe volhard ek as die lewe sy donker kant vir my wys?
Die lewe is ‘n langafstand wedloop. Soms hardloop ons gelykpad, ander kere afdraand, soms deur ‘n vallei en dan weer opdraand.
”3Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug…. 4Daar het hy onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood….”
1 Konings 19:3-4
As ‘n mens nie ‘n besluit neem om die wedloop van de lewe saam met Jesus te hardloop nie, kan jy maklik besluit om tou op te gooi wanneer jy in radeloosheid, moedeloosheid en hulpeloosheid verval, soos sien ons in die geval van Elia. Nadat hy kragtig deur God gebruik is om al die Baäl profete om die lewe te bring, het hy bang geword vir Isebel wat hom om die lewe wou bring, en het vir sy lewe gevlug.
God het hom nie verlaat nie:
“5Toe gaan hy lȇ en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud ‘n engel aan hom en sȇ: Word wakker! Eet! 8Toe staan hy op en hy eet en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.”
1 Konings 19:5, 8
Net soos in die geval van Elia, gee God vandag nog vir ons die nodige krag om elke wedloop suksesvol af te lȇ.
“1Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlȇ, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof….”
Hebreërs 12:1-2
Die Woord van God het ‘n oplossing en ‘n antwoord op elke kwessie wat oor ons pad kom.
Kom ons bestudeer bogenoede skrif in die lig van volharding:
- Raak ontslae van elke las, byvoorbeeld verwyte, onvergewensgesindheid, aanstoot, ‘n swak selfbeeld en so meer. Dus enigiets wat jou terughou om suksesvol te vorder.
- Draai weg van elke sonde wat steeds in jou lewe is sodat jy die wedloop ligvoets kan aanpak.
- Vestig jou oog op Jesus:
- Volg Sy voorbeeld.
- Hy verseker jou dat Hy altyd by jou is.
- Hy herinner jou aan die ewige loon wat vir jou weggebȇre is.
- Hy verseker jou dat jy meer as ‘n oorwinnaar in Christus is.
- Hy het Sy Heilige Gees vir jou gegee as Helper en Raadgewer.
- Hy verseker jou dat jy tot alles in staat is deur Sy krag wat in jou is.
Slotsom
“Dit sȇ Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wȇreld sal julle dit moeilik hȇ, maar hou moed: Ek het die wȇreld oorwin.”
Johannes 16:33
Volhard in Hom!
Alle Skrifverwysings is uit die 1983 vertaling aangehaal.