
7. Gemeenskap van die Gelowiges
Noudat jy aan die Here behoort, is jy deel van Sy liggaam, die kerk. Dié kerk is nie n gebou nie, maar manifesteer in die byeenkoms van die gelowiges. Om effektief in die koninkryk te funksioneer, moet jy daarby ingeskakel wees.
Rom 12:4-5 bespreek dit breedvoerig:
“Ons het baie lede in een liggaam en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam en afsonderlik lede van mekaar.”
Net soos geen liggaamsdeel effektief op sy eie kan funksioneer nie, só kan geen mens ook geestelik op sy eie funksioneer nie. Dit is die Vader se hart, dat ons in ons individuele uniekheid, as ‘n eenheid saam funksioneer, volgens Sý wil. In hierdie eenheid vind elke liggaamsdeel sy funksie. ‘n Hand sonder ‘n arm, is tog tot niks instaat nie.
Wat beteken dit prakties?
Jy moet deel wees van die gemeenskap van gelowiges. In die moderne tyd neem hierdie gemeenskap baie vorme aan, byvoorbeeld, kerklidmaatskap, selgroepe, digitale kerke ens. In hierdie samesyn vind lering, bemoediging, omgee en groei plaas. Dit is hier waar jy tot geestelike volwassenheid kan groei en jou rol in die gemeenskap kan uitleef en vervul. Dit is hier waar jy gementor kan word en jy ander kan mentor. Dit is hier waar ons Hom, as Sy liggaam, saam in lofprysing en aanbidding kan vereer. Dis hier waar jou verhouding met Jesus kan verdiep, wat die einddoel van geestelike groei is. Niemand in die kerk is volmaak nie, maar hier skuur en skaaf ons mekaar, sodat ons, die bruid van Christus, vlekkeloos voor Hom kan verskyn.
Kerk was God se idee. Hy het die kerk ingestel, toe Hy sy dissipels uitgestuur het na die nasies van die wêreld om die Evangelie van Goeie Nuus aan hulle mee te deel.
Heb 10:25 stel dit so: “Ons moenie van die samekomste van die gemeente wegbly nie…maar mekaar aanmoedig om daarheen te gaan en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.
Maak seker dat jy so gou as moontlik by ‘n Bybelgefundeerde kerk inskakel!