Bly in jou baan

Studie #20

Het God ‘n spesifieke doel met my lewe?

“Voordat ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My toegewy…”

Jeremia 1:5

Hierdie baie bekende skrif is vandag nog van toepassing op elke mens. God het ‘n spesifieke doel met elkeen se lewe. 

“…Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”

Jesaja 43:1

Die Bybel leer ons in 1 Korintiȅrs 12 dat ons, die gelowiges, nou die woonplek van die Heilige Gees op aarde is. Gesamentlik vorm ons die liggaam van Christus.

Paulus gebruik die voorbeeld van die menslike liggaam om hierdie boodskap deur te gee: elke orgaan en ledemaat het sy eie plek en funksie, hoewel hulle onderling afhanklik van mekaar is. Elkeen ondersteun die liggaam om effektief te funksioneer. Geeneen van die lede kan onafhanklik oorleef nie. Elkeen word ook geaffekteer deur die pyn en lyding van die ander. 

“As die voet sou sȇ: “Omdat ek nie ‘n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om die rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie.”

1 Korintiërs 12:15 (Lees verse 12-26 om ‘n volledige prentjie te kry)

Wat beteken dit vir my as ‘n individuele gelowige?

  1. Wees dankbaar om deel van die liggaam van Christus te wees.
  2. Verrig jou spesifieke taak met oorgawe en tot voordeel van die liggaam as geheel.
  3. Moenie ontevrede, jaloers of hoogmoedig oor jou taak wees nie.
  4. Streef na eenheid en harmonie terwyl jy vreugde vind in jou unieke rol.

Daar is chaos op ‘n atletiekbaan wanneer die atlete buite hulle bane begin hardloop. Dit kan selfs tot diskwalifisering lei. Daarom…

Slotsom

“…Hardloop dan so dat julle die prys kan wen.”

1 Korintiërs 9:24

“Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God…”

2 Timoteus 4:8

Hardloop in jou baan om die oorwinnaarskroon te verkry.

Alle skrifverwysings is uit die 1983 vertaling aangehaal.