
Die grootste gebod
Studie #29
“Meester, wat is die grootste gebod in die wet?”
“37…Jy moet die Here jou God liefhȇ met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand.38Dit is die grootste en die eerste gebod.”
Mattheus 22: 37-38.
Wat beteken dit om Hom lief te hȇ?
Is dit net ‘n gevoel, ‘n emosionele opwelling? Dit is dit ook, maar Jesus gee die perfekte antwoord:
21”Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hom sal my Vader liefhȇ, en Ek sal hom ook liefhȇ en My aan hom openbaar. 23…As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem en my Vader sal hom liefhȇ en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”
Johannes 14:21,23.
Die persoon wat Hom werklik liefhet, sal sy Woord hȇ en dit doen. Hierdie persoon sal die Bybel lees en daarvolgens leef.
Ons liefde vir Hom is meetbaar. ‘n Ouer meet hoe lief sy kind hom het, deur te let op sy gedrag, sy gehoorsaamheid en respek. Met God is dit ook so. Ons mate van liefde vir God, word in ons gehoorsaamheid aan sy Woord, gereflekteer.
Jy sal dalk kan sȇ dat jy nie liefde vir God “voel” nie. My ervaring was ook so. My liefde was “kopliefde,” totdat ek my Vader gevra het om my lief te laat “voel” vir Hom. Nou vloei trane van ontsag wanneer ek aan Hom dink en met Hom praat, Hom loof en prys en aanbid. Nou WIL ek Hom gehoorsaam.
Dawid stel dit so mooi:
“Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie.”
Psalm 25:4
God het direk met Moses gepraat, soos ‘n man met sy vriend. Moses se versoek was:
“As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag…”
Exodus 33:13
Slotsom
Kom ons word daders van die Woord, mense wat in gehoorsaamheid aan God leef.
“…gehoorsaamheid is beter as offerande…”
1 Samuel 15:22
Al die Skrifte is uit die 1983 vertaling aangehaal, behalwe waar anders vermeld.