
Leer my U weë
Studie #32
Waarom is dit belangrik om Sy weë, Sy manier en Sy wil te leer?
“As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken, sodat ek genade in u oȅ kan vind…”
Exodus 33:13 (1953 vertaling)
In die vorige teks sȇ Moses dat die Here hom by die naam ken en dat hy genade in God se oë gevind het; tog vra hy weer daarvoor. Moses besef dat ‘n mens maklik gewoond kan raak aan gevestigde, verkeerde maniere van dink en leef, sonder om dit te besef. Hierdie teks maak ‘n mens daarvan bewus hoe belangrik dit is om op ‘n baie gereelde basis selfondersoek te doen, omdat selfs die geringste hindernis in ons harte, ons daarvan kan weerhou om God se weë te leer ken.
‘n Goeie voorbeeld hiervan is dat bitterheid ongemerk in ons harte kan insluip.
“…en pas op…dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.”
Hebreërs 12:15
Dit begin gewoonlik met ‘n teleurstelling, wat tot weersin en aanstoot kan lei, en uiteindelik bitterheid tot gevolg het. Bitterheid kan baie moeilikhede in ‘n mens se lewe tot gevolg hȇ.
Sedeloosheid en goddeloosheid is die eerste gevolge waarteen die Woord ons waarsku. Siektes hou ook verband met onderliggende bitterheid.
Die begin van die oplossing, is om bewus te raak van enige bitterheid in jou lewe. Daarom bid Moses: “Here, leer my u weë,” U manier, sodat ek van hierdie bitterheid ontslae kan raak en my lewe kan regkry.
“21Toe ek verbitterd was en veronreg gevoel het, 22was ek dom en sonder insig, soos ‘n redelose dier het ek my teenoor U gedra. 23Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. 24U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem.”
Psalm 73:21-24
Hier praat Dawid daarvan hoe ‘n mens teenoor God optree wanneer ons dink dat alles in ons lewens reg is, terwyl bitterheid en sy moeilikhede, soos ‘n adder in ons harte wegkruip en ons van Sy liefde probeer skei. Nogtans, neem Hy ons aan die hand en lei Hy ons in sy weë.
Dίt is genade onbeskryflik groot!
Slotsom
God se weë, Sy manier van hantering, lei altyd tot ‘n goeie einde, maar ons moet Hom daarvoor vra en toelaat dat die Heilige Gees ons stap vir stap tot volkome oorwinning lei.
“Wanneer Hy kom, die Gees van waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.”
Johannes 16:13
Al die Skrifte is uit die 1983 vertaling aangehaal, behalwe waar anders vermeld.