Ons Vader dink aan ons

Studie #28

“’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Mattheus 4:4

“U gee my die vermoȅ om U stem te hoor en te gehoorsaam.”

Psalm 40: 6 (vry vertaal uit Amplified+)

Ons is geskape met die vermoë om Sy stem te hoor en te herken. Hierin lȇ ‘n diep geheimenis:

“…Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.”

Johannes 10:3

In hierdie teks gebruik Johannes die voorbeeld van Jesus as ons Herder. In daardie tyd het die herder die skape vooruit geloop en hulle het hom gevolg omdat hulle sy stem geken het.

Net so wil God ons Herder en Leidsman wees op ons lewenspad.

Waarna moet ons oplet?

  1. Om nie hardkoppig te wees nie. Hebreërs 3:15 moedig ons aan om nie eiesinnig te wees nie, maar om na Sy stem te luister. Stel jouself doelbewus in om die Here te hoor.
  2. Om nie ‘n besluit te neem voordat ons nie die Here met ‘n oop gemoed oor die saak genader het nie. Vooraf besluite kan tot gevolg hȇ dat ons nie hoor wat ons moet hoor nie, maar eerder wat ons wil hoor.
  3. Om ag te slaan op elke gedagte en emosie. God praat altyd met sagte stem wat ons so maklik kan mis, of nie herken nie. 
  4. Om wakker te wees om Hom op enige manier te hoor. Hy antwoord gewoonlik nie op die manier wat ons verwag nie.
  5. Om stil te word voor die Here. Wag op Hom. Luister na sy stem!

“Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor om julle te onderrig en Hy het julle sy groot vuur op die aarde laat sien en julle het sy woorde uit die vuur uit gehoor.”

Deuteronomium 4:36

11Kom uit en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan. Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte. 13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ‘n stem wat vir hom sȇ: ‘Wat maak jy hier, Elia?’”

1 Konings 19:11-13

Slotsom

“Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor.”

Psalm 40:2

Die Here is altyd besig om met ons te praat. Stel jouself in op Sy frekwensie!

Alle Skrifverwysings word uit die 1983 vertaling aangehaal, behalwe waar anders vermeld word.