
Selfverwyt
Studie #18
Hoe hanteer ek die gevolge van swak of verkeerde besluite wat ek in die verlede geneem het?
Die meeste van ons kan met hierdie vraag identifiseer en kan terugkyk na ‘n besluit wat ons in die verlede geneem het waaroor ons spyt is.
Die apostel Paulus het die volgende hieroor te sȇ:
“…ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.”
Filippense 3:13
‘n Ander manier of te sê “Ek maak my los…” is om te sê “Ek ignoreer…”. Dit is baie makliker gesȇ as gedaan, maar as die Woord sȇ ek kan, is dit moontlik. As ‘n mens nie jouself losmaak van so ‘n insident nie, beroof dit jou van vrede en ervaar jy mettertyd selfverwyt.
Paulus het teen die Evangelie van Christus opgetree deur die Christene te vervolg en dood te maak. Hy het nie toegelaat dat hierdie dwaasheid sy bediening kniehalter nie, en het voortgegaan om effektief te wees in die koninkryk van God. Hy het die beginsel van vergifnis verstaan en het homself vergewe. Vandag is twee derdes van die Nuwe Testament aan hom te danke.
“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sȇ die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.”
Jesaja 1:18
“…U sal al hulle sonde in die diepsee gooi.”
Miga 7:19
In bogenoemde twee skrifte lȇ die Here die beginsel neer van die finaliteit van Sy vergifnis. Hy vergewe volkome en met finaliteit. Net so moet ek myself ook vergewe oor die verwyte van die verlede. Dit is verby, ek kan niks daaraan verander nie. Dis gedane sake! Moenie toelaat dat die satan jou met onnodige verwyte treiter nie. Dit is hoe hy jou probeer ontspoor en van ‘n vreugdevolle en vreedsame lewe beroof.
Hoe behoort ek selfverwyt te hanteer?
- Ek erken dat dit gebeur het.
- Ek dank die Here vir Sy vergifnis.
- Ek vergewe myself.
- Ek besluit om my denke daaroor te vernuwe.
- Ek vul my gedagtes met Sy Woord.
“U sal die een wat sy gedagtes op U vestig omdat hy op U vertrou, in volmaakte vrede bewaar.”
Jesaja 26:3 (vry vertaal uit die Amplified Classic Edition)
Die Here se wil vir ons is volmaakte vrede. Hy gee dit aan almal wat hulle vertroue op Hom stel. Wat ‘n wonderlike wete.
“…ontvang met sagmoedigheid die ingeplante Woord, wat in staat is om julle siele te red.”
Jakobus 1:21 (1953 vertaling)
Die Woord van God kan ons siele red, met ander woorde ons emosies, ons wil en ons gedagtes. So verander dit ons selfverwyt in volmaakte vrede. Bid hieroor, vra Hom om jou hart te verander en die seer van die verlede heel te maak. Moenie toelaat dat dit nog ‘n enkele dag van jou lewe steel nie.
Slotsom
“Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.”
Johannes 8:36
Leef in Sy vryheid en vrede. Hy het met Sy lewe daarvoor betaal.
Alle skrifverwysings is uit die 1983 vertaling, tensy anders vermeld.