Blydskap in die Here

Studie #26

Wat beteken die woord “blydskap”?

‘n Sinomiem daarvoor is: vreugde, om verheug te wees, of om in ekstase te wees.

…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees.”

Nehemia 8:10 (Nuwe Lewende Vertaling – NLV)

Blydskap is nie ‘n gevoel wat op ‘n mens neerdaal nie. Dit is altyd die gevolg van iets.

In hierdie konteks lees ons dat die volk teruggekeer het uit ballingskap en dat hulle saamgeroep is sodat Esra, die skrifgeleerde, hulle kon leer aangaande die Woord van die Here. In vers 8-9 lees ons dat ander skrifgeleerdes hom bygestaan het om die inhoud van die Woord te verduidelik, sodat almal dit kon verstaan. Die openbaring of verstaan van die Woord, het vir hulle blydskap gebring. ‘n Dieper begrip van God en wie Hy is, was die rede vir hulle blydskap! Hierdie mense het vir jare lank gebuk gegaan onder slawerny in ballingskap en het geen rede tot blydskap gehad nie. Die hoop wat hulle in God ontdek het, het hulle lewens kom verander. Dit het hulle sekuriteit, vrede en blydskap geword.

“Esra het die Here, die grote God geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: Amen, amen.”

Nehemia 8:6

“Oor U woord is ek so bly soos iemand wat ‘n groot skat in die hande gekry het.”

Psalm 119:162

Blydskap is ook ‘n vrug van die Heilige Gees. Ons lees in Galasiërs 5:22 dat vreugde of blydskap ‘n vrug van die Gees is. 

In beide bogenoemde verse is blydskap in die Here onafhanklik van omstandighede. Ons is bly omdat ons die Woord ken en verstaan, omdat ons die vrede van geloofsekerheid het, en hierdie soort blydskap gee vir ons krag om elke dag voluit te leef.

Slotsom

“Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ‘n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.”

Hebreërs 13:15

Al die Skrifte is uit die 1983 vertaling aangehaal, behalwe waar anders vermeld.