
Gee aandag aan jou liggaam
Studie #30
Hoe belangrik is ons liggame vir die Here?
Volgens die Griekse kultuur tydens die Nuwe Testamentiese tyd, is die liggaam van die mens van baie min belang. Slegs die siel en die gees is belangrik geag.
Volgends die Hebreeuse kultuur, is die liggaam baie belangrik vir die Here.
“Mag God wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom.”
1 Tessalonisense 5:23
Redes hoekom die liggaam belangrik is
- Volgens 1 Korintiërs 6:19-20 is die liggaam die tempel (woonplek) van die Heilige Gees.
- Ons liggame is deur Jesus se kruisdood gekoop.
- Ons liggame behoort aan Hom, Hy is die wettige eienaar daarvan.
“En nou doen ek ‘n beroep op julle, op grond van die groot ontferming van God: Gee julle liggame aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.”
Romeine 12:1
Hier word ‘n ernstige beroep op ons gedoen om ons liggame as lewende, heilige en aanvaarbare offers aan God te wy. Hierdie daad word gesien as ‘n stap van gehoorsaamheid en van aanbidding tot God.
“Toe het God gesȇ: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld…”
Genesis 1:26
Ons liggame is die sigbare beeld van die onsienlike God. Tesame met ons siel en gees, verteenwoordig ons hom ook met ons liggaam.
“ …ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan.”
3 Johannes 1:2
Slotsom
Ons fisiese gesondheid hou direk verband met hoe dit geestelik met ons gesteld is. Die bloed van Jesus het ons duur gekoop, na liggaam, siel en gees. Dit is ons verantwoordelikheid om onsself op alle vlakke van ons menswees te versorg.
“Onderwerp jouself aan God en leef in vrede met Hom, sodat jy voorspoed sal hȇ.”
Job 22:21 (vry vertaal uit die Amplified vertaling)
Al die Skrifte is uit die 1983 vertaling aangehaal, behalwe waar anders vermeld.