
Het Hy ons lof en aanbidding nodig?
Studie #41
Mense het ‘n behoefte aan erkenning en aanvaarding. Dit vervul die basiese behoefte aan ‘n gevoel van waardigheid en waarde. Ons floreer in sulke omstandighede.
“Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.”
Romeine 13:7
“Ontvang hom met oop arms as ‘n broer in die Here en bejeȅn manne soos hy met agting…”
Filippense 2:29
“Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee.”
1 Timoteus 5:17
Die Bybel moedig ons aan om eer te gee wanneer dit iemand toekom. Dit het groot waarde voor God, maar moet met omsigtigheid gegee en ontvang word, sodat dit nie ‘n afgod word en ons op ‘n dwaalspoor gelei word nie. Die Bybel leer ons immers om Hóm te loof en te aanbid, nie waar nie?
God het nie ons lof en aanbidding nodig nie! Hy is soewerein! Hy is selfonderhoudend en onafhanklik van enige eksterne magte. Niks wat enige persoon van Hom dink of sȇ, het enige effek op wie Hy is nie. Hy is, volgens Hebreërs 13:8, dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid.
In Genesis 17:1 openbaar God Homself aan Abraham as die Almagtige. In 2 Korintiërs 6:16 sȇ die Here die Almagtige dat Hy ons God sal wees wat onder ons woon en wandel, en dat ons Sy volk sal wees.
Hy het ons nie nodig nie, maar ons het Hom nodig. Lofprysing en aanbidding is die roete na Sy teenwoordigheid. Hier vind ons lewe, hoop en redding – alles wat ons lewe inhoud en betekenis kan gee.
“U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is.”
Psalm 16:11
Die uitnodiging tot lof en aanbidding is ‘n uitnodiging van ons Vader om na Hom toe te kom; nie omdat Hy ons nodig het nie, maar omdat ons ons lewe in Sy heerlike teenwoordigheid vind.
Slotsom
“1Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, 2hy sȇ vir die Here: U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou. 16‘n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.”
Psalm 91:1-2, 16
Alle skrifverwysings is uit die 1983 vertaling aangehaal, behalwe waar anders aangedui.