
Verliese en Teleurstellings
Studie #16
Wat gebeur wanneer ek verliese of teleurstellings ervaar?
Die lewe “gebeur” vroeȅr of later met almal van ons. Dit kan verskillende dinge wees, bv. die afsterwe van ‘n geliefde, egskeiding, ernstige siekte, verlies van inkomste, en soveel ander teleurstellings of traumatiese gebeure wat ons lewens tot stilstand ruk.
Wanneer hierdie dinge ons tref, kom die vraag onwillekeurig op: “Hoekom het dit met my gebeur?”
Al sou ons ook antwoorde op ons vrae kry, sal dit nogsteeds nie die onverstaanbaarheid van die gebeure bevredigend beantwoord, of ‘n oplossing vir die probleem bied nie.
“Net so min as wat jy kan verstaan hoe die gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan, Hy wat alles geskep het.”
Prediker 11:5
Om vorentoe te beweeg, is dit belangrik dat ons, ons “reg” om te verstaan moet prysgee!
Gelowiges definieer God aan die hand van sy Woord; dat Hy getrou is, dat Hy ons liefhet en dat Hy altyd ‘n pad in die “woestyn” sal maak. Dit is waaraan ons moet vasklou, terwyl ons Hom loof en prys.
Mense wat in hulle wandel met God teruggeval het, definieer Hom na gelang van dit wat Hy nie gedoen het nie. Hulle voel opstandig teenoor Hom en plaas sy liefde vir hulle onder verdenking. Hulle verval maklik in ‘n afwaartse spiraal van emosies, vrae en verwyte, waaruit hulle moeilik kom. Hulle neem aanstoot teen God en word daardeur vir die waarheid van sy Woord verblind.
Die woord “aanstoot” kom van die Griekse woord “skandelon,” wat “lokval of wip,” beteken. Dit is satan se eeu-oue taktiek om ons teen God te laat draai.
23“Maar daar kom ‘n tyd en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hȇ dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.24God is Gees en die wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”
Johannes 4:23-24.
Slotsom
Kom ons aanbid hom vir wie Hy is, ongeag die omstandighede rondom ons. Hy is die liefdevolle Vader wat van ewigheid tot ewigheid dieselfde is. Hy is altyd goed!
(Alle Skrifverwysings is uit die 1983 vertaling aangehaal)