
2. Die Bybel
a. Wat is die Bybel?
Die Bybel is oor ‘n tydperk van 1600 jaar, oor drie kontinente (Asië, Afrika en Europa), deur veertig outeurs, in drie tale (Aramees, Grieks en Hebreeus), oor een onderwerp, geskryf: “The glory of God and salvation to everyone believing in Jesus Christ.” Die Bybel handel oor Jesus, ons Verlosser.
Die 66 boeke van die Bybel is in twee hoof gedeeltes verdeel: Die Ou Testament (39 boeke) en die Nuwe Testament (27 boeke). Dit is belangrik om te onthou dat hierdie boeke die unieke perspektiewe en persoonlikhede van hul skrywers bevat. Die Heilige Gees, die Outeur van die Bybel, het hulle toegelaat om onder Sy leiding hul weergawe van verstaan, deur te gee.
Die Bybel word ook die “Woord van God” genoem, omdat dit Sy boodskap aan die mensdom bevat.
b. Lees jou Bybel
Die Bybel is die Woord van God.
Matt 4:4 – “…Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke Woord wat deur die mond van God uitgaan.”
Sy Woord IS jou lewe. Dit is die onontbeerlike voedsel wat jy benodig vir ‘n lewe van oorwinning.
Heb 4:12 – “Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykant en dring deur selfs tot die skeiding van die siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.”
Lees ook die gedeelte in Lukas 8 oor die gelykenis van die saaier. Hiér word Jesus as die Saaier geïdentifiseer, wat die saad van sy Woord in ons harte saai. So word Hy in ons lewens betrek, wanneer ons die Woord lees.
Volgens Romeine 10:17, kom geloof deur die Woord te hoor. Die Woord plant geloof in jou hart en stel jou instaat om volgens Sy wil te lewe.
Lees Psalm 119 om meer inligting rondom die Woord te kry.
c. Beginners leesprogram
Die doel van hierdie hoofstuk is om jou te lei om ‘n betekenisvolle leesprogram te volg ,sodat jy genoegsame kennis sal hê om effektief as ‘n gelowige te begin leef. Ook dat dit jou sal aanspoor tot meer gevorderde kennis van die Woord.
Neem kennis dat die doel van hierdie program is om jou te vestig in sekere waarhede, en dat spoed nie ‘n vereiste is nie. Lees dit totdat jy ‘n behoorlike begrip daarvan kry.
Elke Bybel leser word ten sterkste aangemoedig om gebed deel van sy leesprogram te maak. Bid voordat jy lees, terwyl jy lees, en nadat jy gelees het. Deur te bid praat jy met die Outeur van die Bybel. Hy wil jou in waarheid lei (Meer hieroor in die hoofstuk van gebed).
Die leesprogram is soos volg:
- Genesis 1-3 en Psalm
- Die boek van Lukas en Psalm 19
- Handelinge 1-4 en 7 en Psalm 23
- Jakobus 1-5 en Psalm 63
- Johannes 3, 14-21 en Psalm 16
- Efesiërs 1-6 en Psalm 27
- Romeine 1 en Psalm 91
- 1 Korintiërs 15 en Psalm 100
d. Memoriseer tekste
Jos 1:8 “Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy
alles uitvoer wat daarin staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.”
Ons memoriseer tekste sodat ons hierdie opdragte kan uitvoer en om die beloftes daaraan gekoppel, te verkry.
Hoe doen ek dit prakties?
Kies elke week ‘n teks. Bedink dit oor en oor. Bid daaroor. Leer en herhaal dit, totdat Jou gedagtes in lyn met Sy Woord kom. Vra die Heilige Gees om die Woord vir jou “lewendig” te maak. So word die waarhede van die Woord met lewensveranderende gevolge in jou verstand en gees vasgelê.
Laastens, hou rekord van die tekste wat jy leer vir gereelde hersiening en vaslegging.
e. Watter Bybel?
Die Bybel is oorspronklik in Hebreeus, Grieks en Aramees geskryf.
Ons Bybels is dus vertalings van die oorspronklike tekste. Weens taalkundige uitdagings is dit moontlik dat die oorspronklike betekenis nie altyd ten volle bereik word nie. Dus is dit ‘n goeie idee ‘n paar vertalings te lees om sodoende die ware betekenis te kan bekom. Ek beveel ook aan dat jy die Bybel ook in jou moedertaal lees. Verder dan ten minste een betroubare Engelse vertaling, soos die New King James of die Amplified Bible (Verskeie is beskikbaar).
Verskeie elektroniese programme is ook beskikbaar wat sal help met die verstaan van die Skrif, bv. eSword.