3. Gebed

a. Wat is gebed?

Gebed is onder andere ‘n gesprek met God. ‘n Eenvoudige gebed wat selfs ‘n kind kan uiter het die potensiaal om die grootste krag denkbaar los te maak.

Die krag van die gees wêreld lê, in die sfeer van gebed. Gebed het die krag om God ‘n werklikheid in jou lewe te maak en om jou te laat deel in die beloftes wat in die Bybel staan.

Gebed is die primêre middel waardeur jy Hom kan leer ken.

 Toe Jesus se dissipels gesien het dat Sy wonderwerke deur gebed voorafgegaan is, het hulle Hom gevra om hulle te leer hoe om te bid (Luk 11:1).

Hieruit leer ons dat gebed  een van die belangrikste geestelike dissiplines is.

Gebed is om tot Hom te nader. Om Hom in jou besluite te betrek. Om Hom te vertel dat jy Hom liefhet. Om te ervaar dat Hy jou liefhet. Deur gebed leer jy Hom ken, en dit is die ewige lewe.

Joh 17:3 – “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”

Bid elke dag!  Bid sonder ophou!

b. Hoe bid ek?

Gebed is God se idee. Dit is ‘n hartsgesprek tussen jou en jou Vader, jou Vriend en Vertroueling.  Hy wil so gereeld as moontlik van jou hoor en ook met jou praat. Net soos wat jy met jou ouers, kinders en vriende sou praat. Hy is lief vir jou.

Lees Mattheus 6:5-15.

Hier praat Jesus vir die eerste keer met sy dissipels oor gebed en Hy gee waardevolle instruksies , wat ook vir ons bedoel is wanneer ons bid.

“Moenie in die openbaar bid vir die aandag van mense nie, gaan na ‘n private plek, maak die deur agter jou toe, bid tot jou Vader, vermy onnodige herhalings, ondersoek jou hart deurentyd.”

Gebed hoef selfs geen woorde te bevat nie en daar is ook talle voorbeelde van mense wat in verskillende omstandighede en plekke gebid het. Mense wat staan, sit, loop, kniel, en selfs op die vloer lê. Jy kan hardop bid, sag bid, in jou gedagtes bid of in die Gees bid.  (Ons praat later meer daaroor.)

Dit is ‘n goeie gewoonte om jou dag met gebed te begin en af te sluit. 

c. Voorbeeld

My Vader

EK dank U vir al die goeie gawes wat ek geniet, (Danksegging)

Ek loof U dat U my redder is, (Lofprysing)

Ek aanbid U want U is goed en liefdevol, (Aanbidding)

Ek dank U dat ek die geseënde van die Here is,

Ek dank U dat U my en my gesin beskerm,

Ek dank U dat U my vandag seën met guns, 

Ek dank U dat U my seën met wysheid en insig, 

Ek vra dat U my hart voortdurend vernuwe,

Ek vra dat U my bewaar teen enige sondige begeertes,

Gee my opnuut liefde vir U mense, 

Help my om in U wil te lewe,

Weet dat ek lief is vir U bo alles!

Ek vra dit in die naam van Jesus,

Amen.

d. Voorvereiste

Gebed en geloof is onafskeidbaar met mekaar verbind. ‘n  Gelowige gebed, het die verwagting dat God dit sal hoor en beantwoord.

Jakobus 1:6-7 : “Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ‘n mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.”

Heb 11:1 :“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”

Heb 11:6 : “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”