wat is bekering en wedergeboorte

Wat beteken dit om te bekeer?

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” – 2 Kor 5:17 AOV

‘n Nuwe begin, ‘n nuwe skepping! Dit is wonderlike nuus! Hoewel, om die omvang daarvan te verstaan, moet ons eers die betekenis daarvan verstaan. Hoekom is dit nodig om nuutgemaak the word?  Waarvan moet jy verlos word?

“Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” – Rom 3:23 AOV.

Volgens Genesis 3, het die mensdom se probleem met die sondeval begin. Die gevolg van sonde, is dat daar ‘n skeiding tussen mens en God ontstaan het, omdat die mens nou onder die mag van sonde was. Die enigste manier waarop daar versoening tussen God en die mens kon kom, was deur die kruisdood van Jesus. 

2 Kor 5:21 – “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”

Wat beteken dit?

Jesus het ons sonde en straf op Homself geneem. Hy het in ons plek gesterf sodat ons posisie en verhouding met God, herstel kan word, en ons vry van sonde kan leef. Ons sonde is vergewe!

“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewigen lewe kan hê.” – Joh 3:16 AOV

Nou kan jy die Vader leer ken.  Om Hom te ken, beteken dat jy in gehoorsaamheid aan sy Woord begin leef. 

Hoe kom jy tot redding?

Eerstens, moet jy besef en erken dat jy ‘n sondige lewe lei.

Tweedens, moet jy berou hê oor jou sonde en dit teenoor die Here bely.  (1 Joh 1:9)

Derdens, moet jy die besluit neem om weg te draai van jou sondige lewe. Bekering beteken om weg te draai van sonde.  Bekering lei tot wedergeboorte (2 Kor 7:10)

Wat is Wedergeboorte?

Dit beteken dat jy erken dat jy Jesus se verlossingswerk nodig het, dat Hy jou vrygemaak het van die mag van sonde en dat jy Hom as jou persoonlike Saligmaker aanneem. (Joh 3:16)

Bid hierdie bekeringsgebed hardop.

“My hemelse Vader, ek erken dat ek in sonde leef, en dat ek U redding nodig het. Ek het berou oor die sonde waarmee ek myself besig gehou het tot hiertoe, en vir die effek daarvan in my en ander se lewens. Ek vra U om my te vergewe, en dank U vir vergifnis.  Ek dank U vir U genade vir my in Jesus, en dat Hy my sonde op Hom geneem het. Ek neem dit aan met vreugde en dankbaarheid. Dankie dat Jesus vir my gesterf het aan die kruis, sodat ek vry kan wees. Ek draai weg van sonde, en kies om te leef volgens U woord. Ek kies om lief te wees vir U. Dankie dat ek nou U kind is. Amen”

Nou is jy ‘n wedergebore kind van God! 

‘n Nuwe leefstyl wat  by bekering pas, behoort nou jou doelwit te wees. 

Die Bybel is nou jou riglyn:

“My seun, luister baie goed na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my woorde! Moet dit nooit uit die oog verloor nie. Hou dit altyd in gedagte.My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam. Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen. Moenie lelike dinge sê nie. Bly ver weg van lawwe praatjies.” – Spr 4:20-24 NLV

Bekering is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar behoort wanneer jy bewus raak van sonde, plaas te vind. Neem die besluit om jou lewe elke dag onder die loep te neem en opnuut aan God te wy.

Bekering en wedergeboorte is die eerste stap in die leer van saligmaking. Jesus, Petrus, Paulus en Johannes die Doper het hierdie leer verkondig. Dit moet gevolg word deur die waterdoop en die doping in die Heilige Gees.